Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy jaarlikse plaasmoordverslag vir 2022 bekendgestel. Dié verslag vergelyk ook die aantal plaasmoorde met die aantal verdagtes wat aangekeer word.

Volgens AfriForum is dit kommerwekkend dat daar net 33% van moordverdagtes in hegtenis geneem word. Volgens die verslag het die aantal plaasaanvalle die afgelope jaar afgeneem vanaf 415 aanvalle en 55 moorde in 2021 na 333 aanvalle en 50 moorde in 2022.

“Ongelukkig is dit nie duidelik of die aantal aanvalle wel werklik afgeneem het nie omdat ons bewus is dat daar toenemend gevalle is wat nooit by die polisie aangemeld word nie. Ek dink nie die publiek se vertroue in die polisie was al ooit so laag soos nou nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum maan boere en die publiek in die algemeen aan om veiligheidstrukture op die been te bring en aktief by die beveiliging van hul eie gemeenskappe betrokke te raak. AfriForum het 160 buurtwagstrukture landwyd en bied ook veiligheidsopleiding vir boere aan. 

“Die minister van Polisie, Bheki Cele, het self onlangs erken dat die polisie nie in staat is om sy pligte uit te voer sonder hulp van die betrokke gemeenskappe nie, en vir eens stem ek met hom saam. AfriForum is ook besig om regsopsies te ondersoek om vir plaas- en buurtwagte meer mag daar te stel om hul take doeltreffend uit te voer,” sluit Broodryk af.