Die burgerregteorganisasie AfriForum het gisteraand tydens ’n funksie ‘n nuwe dokumentêre film bekendgestel en gepubliseer wat die Solidariteit Beweging se toekomsplan, gebaseer op die beginsel van gemeenskapsfederalisme, verduidelik. Deur middel van verskeie sprekers word die idees van staatsbestandheid en selfdoen ondersoek, asook gedemonstreer deur praktiese voorbeelde. Die dokumentêr bespreek verder AfriForum se ankergemeenskappe inisiatief, internasionale voorbeelde van federalisme in aksie, provinsiale outonomie, groeiende outonomie vir die Wes-Kaap, Orania, Pretoria as kulturele kanton, en veel meer.

Sprekers in die dokumentêr sluit Flip Buys, prof. Danie Goosen, Kallie Kriel, Robert Duigan, Heindrich Wyngaard, dr. Ernst Roets, Helen Zille, Martin van Staden, Russell Lamberti, Joost Strydom, Carel Boshoff, dr. Luis Durnwalder, dr. Christoph Von Ach, Carlo Vettori, en Marc Röggla in.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum en die regisseur van die dokumentêr, sê dat Afrikaners die moed bymekaar moet skraap om hul toekoms en lot in hul eie hande te neem.

“Ons kom vanuit ’n erfenis van pioniers, ons pad is staatsbestandheid en ons is op pad na vryheid. Gemeenskapsfederalisme is die voertuig waarmee ons op hierdie pad ry. Hierdie dokumentêr, genaamd Selfbestuur, poog om die gesprek rondom gemeenskapfederalisme bietjie petrol in die tenk te gee, maar die pad na vryheid strek steeds voor ons uit soos ’n bergpas deur die Drakensberge,” sluit Van Zyl af.

Die dokumentêr, Selfbestuur: Staatsbestande oplossings vir die toekoms, is beskikbaar op AfriForum se YouTube kanaal, asook op AfriForumTV. Die dokumentêr bevat subtitels vir Engelse kykers.