AfriForum en Solidariteit het vandag daarin geslaag om die Departement van Toerisme se diskriminerende toerismefonds die finale nekslag toe te dien. Dit volg nadat dié departement geappelleer het teen die 2021-uitspraak van die hoogste hof van appèl in AfriForum en Solidariteit se guns dat die gebruik van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir hulpverlening van die toerisme-ekwiteitsfonds onwettig is.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die destydse minister van Toerisme, het die ekwiteitsfonds in 2020 as ʼn instelling bekendgestel wat slegs lenings en toelae aan ondernemings met swart eienaarskap van minstens 51% sou toestaan. Volgens AfriForum en Solidariteit is die toeken van hulpverlening op grond van ras onredelik. Die Konstitusionele Hof het dít vandag beaam en het hierdie optrede van die departement onwettig verklaar.

“Die kriteria vir die fonds was doodeenvoudig rassisties. Die regering kan dit as transformasie probeer verbloem, maar hy het lankal sy ware kleure gewys. Dit is uiters laag om die skade wat die regering met sy onredelike Covid-19-inperkingsregulasies aan die toerismesektor aangerig het, uit te buit om boonop teen mense te diskrimineer. Suid-Afrikaanse burgers is moeg daarvan om toe te kyk hoe die regering se rasse-ideologie die land se ekonomie lamlê. Hierdie uitspraak stuur ʼn belangrike boodskap aan die regering dat ras nie meer as ʼn troefkaart bo alle ander belange kan dien nie,” verduidelik Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit.

“Hierdie uitspraak is ʼn harde hou vir die Suid-Afrikaanse regering in sy stryd om sy ‘reg’ om te kan diskrimineer op grond van ras te probeer beskerm,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Volgens AfriForum en Solidariteit is dit ʼn belangrike oorwinning aangesien die regering se voortslepende obsessie met ras en verteenwoordigendheid na dié instellings se mening steeds een van die grootste hindernisse vir ʼn florerende ekonomie is.

“Vandag se uitspraak is ʼn reuseoorwinning, maar die nalatenskap van die regering se verknogtheid aan ras bo alles anders is steeds sigbaar by tallose staatsinstellings soos Eskom en dit dra tot ʼn groot mate by tot die huidige krisis in die land. Vandag se uitspraak lê egter ʼn sterk fondasie vir verdere gevegte en litigasie,” het Van der Bijl afgesluit.

“Ná meer as ʼn 100 jaar van rassediskriminerende beleid, wat tot in die 21ste eeu voortduur, is dit hoog tyd dat hierdie afskuwelike praktyk afgeskaf word en die gryp na strooihalms gestaak word om die voortsetting daarvan in die hede te probeer regverdig, soos wat die regering in hierdie geval gepoog het,” sluit Van Zyl af.