Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n omvattende verslag oor plaasaanvalle en plaasmoorde tydens ’n mediakonferensie bekendgestel. Die verslag verskaf ’n oorsig oor die kenmerke van plaasmoorde oor die afgelope ses jaar (van 2016 tot 2021). Gedurende dié tydperk is 364 plaasmoorde geverifieer.
In sy verslag beklemtoon AfriForum die swak arrestasie- en skuldigbevindingskoers van oortreders wat in daardie tyd by plaasmoorde betrokke was. AfriForum het die inhegtenisneming van verdagtes en die skuldigbevinding van oortreders met behulp van ’n oopbron media-analise ondersoek en beoordeel.
“Tydens plaasmoorde is gemiddeld 47% van aanvallers wat bekend is, in hegtenis geneem, maar net 33% van die gearresteerde oortreders is skuldig bevind. Dit is werklik skokkend en toon hoe die strafregstelsel slagoffers van plaasaanvalle in die steek laat,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.
Die verslag het ook bevind dat daar nie ’n enkele jaar is waarin marteling nie plaasgevind het nie en dat gemiddeld 15% van die slagoffers van plaasmoorde gemartel is. Volgens Johan Nortjé, ’n navorser by AfriForum, is hierdie tendens uiters kommerwekkend en daar moet dringend aandag daaraan gegee word. In 2020 is 24% van die moordslagoffers gemartel. “Dit wys dat plaasaanvalle nie net ’n gewone misdaad is nie en geprioritiseer moet word,” sê Nortjé.
Die verslag beklemtoon ook die volgende:
- Die meeste gedokumenteerde plaasmoorde het in Gauteng voorgekom en die minste in die Noord-Kaap.
- Meer as 50% van die moorde het op plase plaasgevind, nie op kleinhoewes nie.
- Die gemiddelde ouderdom van slagoffers was 57, en die meeste moordslagoffers was manlik.
- Hoewel die meeste moorde tussen 18:00 en 20:59 gepleeg is, vind dit enige tyd van die dag plaas.
- Skietvoorvalle was die hoofoorsaak van dood by 52% van die moordslagoffers wie se oorsaak van dood bekend is.
“In die lig van die aantal moorde en die marteling van slagoffers op plase is dit nodig dat boere hulself begin beveilig. AfriForum poog om boere en hul gesinne meer weerbaar teen plaasaanvalle te maak en sal voortgaan om projekte, aksies en veldtogte te dryf om ons boere veiliger te maak en hulle te ondersteun waar ons kan,” sluit Roets af.
Lees die verslag hier.