AfriForum en Solidariteit gaan vandag onderskeidelik hofstukke in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria beteken waarin die organisasies die hof versoek om die voortsetting van die huidige ramptoestand ongeldig te verklaar.

In sy argumente stel AfriForum dat daar tans geen ramp is nie en dus geen nut vir ’n ramptoestand nie. Die organisasie sê dat wanneer daar gekyk word na die huidige hospitalisasie- en sterftesyfer vir COVID-19 is daar geen regverdiging vir die voortgesette onderdrukking van burgers se vryheid nie.

AfriForum het talle regstryde teen onredelike regulasies van stapel gestuur sedert die eerste inperking byna twee jaar gelede aangekondig is, insluitend die afskaffing van regeringskwarantynkampe en ander maatreëls soos die aandklokreël, strandverbod en die verbod op godsdienstige byeenkomste. AfriForum het ook saam met Solidariteit die COVID-19-toerismefonds onwettig laat verklaar, hierdie fonds sou finansiële hulp aan ondernemings en persone in die toerismesektor bied gebaseer op hul velkleur.

“Dit is duidelik dat dit nie meer nodig is vir ’n ramptoestand nie. Die feit dat die ramptoestand herhaaldelik verleng word, wys net dat die ANC-regering nie van plan is om sy greep te verslap nie op die ongebonde mag wat hy die afgelope twee jaar gegryp het met die instelling van drakoniese regulasies.  Dit is waarom ons die hof in hierdie saak nader,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.