AfriForum se verteenwoordigers sal na Genève, Switserland reis om aan die vyftiende sitting van die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidskwessies deel te neem, wat tussen 1 en 2 Desember plaasvind. Ernst Roets, AfriForum se uitvoerende hoof vir Internasionale Skakeling, sal persoonlik ’n aanbieding maak oor die voortgesette haatspraak en diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika. AfriForum verteenwoordigers sal ook ’n verslag by die kantore van die Verenigde Nasies se Komitee vir die Eliminasie van Rassediskriminasie (CERD) indien.

Hierdie verslag poog om al die nuwe diskriminerende wetgewing, voorvalle en beleid in Suid-Afrika te dokumenteer asook dié wat geïmplementeer of voorgestel is, of wat plaasgevind het sedert 2020. Die verslag dokumenteer sommige van die bekendste voorvalle van haatspraak en aanhitsing tot geweld teen minderhede deur hoëprofielfigure in daardie selfde tydraamwerk. AfriForum het hierdie verslag geskryf om aan CERD-lede ’n meer omvattende beskrywing te verskaf van die stand van menseregte in Suid-Afrika, veral hoe minderheidsgemeenskappe deur haatspraak, aanhitsing tot geweld en diskriminerende wetgewing in die visier gestel word.