Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verslag oor ANC-mislukkings en federale oplossings vrygestel tydens ’n oggendfunksie. Die verslag onderstreep regeringsmislukkings oor die laaste paar jare wat onder meer sleuteldiensleweringsareas soos energieverskaffing, polisiëring, onderwys en vervoerinfrastruktuur insluit.

Die skrywer van die verslag, Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, het tydens hierdie geleentheid ’n oorsig oor die inhoud van die verslag gegee. Die eerste afdeling in die verslag beklemtoon die buitensporige vergoedingspakkette van hooggeplaaste regeringsamptenare. Die verslag bevat ook ’n uiteensetting van AfriForum se federale toekomsplan. 

Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, het ook ’n uiteensetting van AfriForum se federale toekomsplan gegee. AfriForum se plan is op gedesentraliseerde gemeenskapsmodel geskoei en maak staat op ’n benadering van selfdoen om mense bestand te maak teen die mislukkings van die regering.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, het op hierdie geleentheid gepraat oor Kaapse federalisme. Wyngaard het veral benadruk hoe die omstandighede van alle gemeenskappe in die Wes-Kaap verbeter kan word deur die bevordering van gemeenskapselfstandigheid, ’n selfdoeningesteldheid en die verdieping van demokrasie binne ’n meer federale bestel.

“Dit is belangrik dat mense kennis neem van die skaal van ANC-regeringsmislukkings in Suid-Afrika, juis omdat dit ons moet aanmoedig om verder deur ’n benadering van selfdoen onsself staatsbestand te maak. Hierdie verslag wys dat ons definitief nie op die regering kan vertrou om ons te red nie, maar dat ons tog hoopvol moet wees oor ons federale toekomsplanne,” sê Duvenage.