AfriForum se hoof van Beleid en Aksie, dr. Ernst Roets, vertrek Vrydag 9 September na die VSA om dié burgerregteorganisasie se #DieWêreldMoetWeet-veldtog voort te sit. Tydens hierdie besoek sal die kollig in besonder geplaas word op die onlangse hofuitspraak waarin verklaar is dat die dreunsang “Kill the Boer, kill the farmer” nie haatspraak is nie.

Roets woon op uitnodiging die National Conservatism-konferensie in Florida by, wat deur die prominente Edmund Burke Foundation aangebied word. Tydens sy besoek in die VSA gaan hy ook as hoofspreker by ’n geleentheid van die New York Young Republican Club in New York optree. Die doel van die funksie is om die aandag te vestig op die krisis in Suid-Afrika en die werk wat AfriForum doen. Verder sal Roets ’n reeks vergaderings in Washington DC toespreek.

“AfriForum het die afgelope paar jaar reuse-spronge in buitelandse skakeling en steunwerwing gemaak. AfriForum is reeds geregistreer by die Verenigde Nasies (VN) se afdeling vir nieregeringsorganisasies en neem gereeld aan VN-geleenthede deel om die wêreld oor die omstandighede in Suid-Afrika in te lig. AfriForum is ook besig om na skakelgeleenthede by die Afrika Unie te kyk. AfriForum se teenwoordigheid op die internasionale verhoog maak dit vir ons moontlik om die wêreld te laat kennis neem van die onderdrukking van minderhede in Suid-Afrika. Met hierdie besoek hoop ons dus om verder op hierdie grondslag te bou,” sê Roets.

Steun AfriForum se #DieWêreldMoetWeet-veldtog.