Die burgerregteorganisasie AfriForum het twee voorleggings by die Verenigde Nasies (VN) oor sy werk ingedien. Eerstens, het AfriForum ’n voorlegging vir die 51ste standaardsessie van die VN se Menseregteraad ingedien, wat vanjaar vanaf 12 September tot 7 Oktober plaasvind. Hierdie voorlegging fokus op die probleme wat regeringsgmislukking en die onderdrukking van minderhede in Suid-Afrika veroorsaak het. Dit verskaf ook oplossings in die vorm van ’n gemeenskapsgebaseerde toekomsplan wat gemeenskappe in staat stel om hulself teen regerinsgsmislukking en die misbruik van regeringsmag te weer.

Tweedens, het AfriForum ’n voorlegging saamgestel vir die Raadplegingskomitee van die VN se afdeling vir niegeregingsorganisasies. AfriForum is sedert 2020 by die VN se afdeling van nieregeringsorganisasies (’n onderafdeling van die VN se Ekonomiese en Maatskaplike Raad) as ’n nieregeringsorganisasie met spesiale raadgewende status geregistreer. Die organisasie se voorlegging beklemtoon die belangrikheid van nieregeringsorganisasies en die burgerlike samelewing om gemeenskappe op te bou en as ’n waghond teen regeringsmagsmisbruike op te tree. Verder voer AfriForum aan dat nieregeringsorganisasies ’n veel meer sentrale rol in die beleidsvorming van die VN moet speel, aangesien organisasies soos AfriForum oor die plaaslike kundigheid beskik om ’n daadwerklike verskil op grondvlak te maak.

“AfriForum gebruik sy status by die VN as ’n platform om die wêreld oor die situasie in Suid-Afrika in te lig. Sodoende kan AfriForum verder ondersteuning vir sy werk in die buiteland vind en internasionale druk op die ANC-regering uitoefen om vernietigende en diskriminerende beleide te laat vaar. AfriForum sal voortgaan om op ’n internasionale verhoog ’n kampvegter vir burgerregte en ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms te wees,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.