Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom ’n opspraakwekkende uitspraak, wat gister in die Hoogste Hof van Appèl gelewer is, wat bepaal dat menige Suid-Afrikaners in die buiteland se verbeurde Suid-Afrikaanse burgerskap herstel moet word en dat hulle aan die Suid-Afrikaanse nasionale verkiesing in 2024 sal kan deelneem.

Die Hoogste Hof van Appèl het beslis dat Artikel 6 (1)(a) van die Suid-Afrikaanse Wet op Burgerskap (Wet 88 van 1995) strydig is met die Grondwet en ongeldig is sedert dit op 6 Oktober 1995 aangekondig is. Dié saak is deur die DA aanhangig gemaak omdat hulle van mening was dat die Suid-Afrikaanse Burgerskapwet ongrondwetlik is. Die DA het ook gesê Suid-Afrikaners word wederregtelik van hul burgerskap ontneem wanneer hulle burgerskap in ’n ander land verkry.

Dié uitspraak volg ná ’n nege jaar lange veldtog deur die DA in die buiteland en ’n regstryd van vyf jaar. Die regstryd het gevolg ná baie Suid-Afrikaners onwetend hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor het toe hulle aansoek gedoen het vir burgerskap in ’n ander land.

Dit is ’n reuseoorwinning vir elke Suid-Afrikaner in die buiteland wat hul burgerskap verloor het.

“Ek wil beklemtoon dat burgerskap belangrik is, dit skep ’n gevoel van behoort en dra by tot iemand se identiteit,” sê Sue-Ann de Wet, AfriForum se hoof van Diaspora.

Verder is dit betreurenswaardig dat ons regering aanhoudend Suid-Afrikaanse emigrante vervreem – soos met die belastingwetsontwerp waarmee hulle net nóg meer geld uit mense wat in die buiteland werk probeer tap. “Ons mense in die buiteland is ons beste ambassadeurs en moet gehelp word om hul identiteit te behou. Hulle is ons familie, vriende en ambassadeurs, en ons kan nie bekostig om hulle te verloor nie. Een ding is seker – as die stand van Suid-Afrika se politieke en veiligheidsomgewing anders was, sou veel minder Suid-Afrikaners groener weivelde gaan soek het,” voeg De Wet by. 

AfriForum moedig Suid-Afrikaners in die buiteland aan om in 2024 aan die nasionale verkiesing deel te neem. “Elke kruisie op ’n stembrief maak ’n verskil,” sluit De Wet af.

AfriForum Wêreldwyd beoog om, soos in die verlede, ekspats op hoogte van sake rakende die Suid-Afrikaanse nasionale verkiesing te hou. Inligting oor hoe om in die buiteland te stem, asook watter dokumente nodig is om daarvoor te kwalifiseer, sal later deurgegee word.