Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan in die volgende twee weke openbare verhore oor onteiening sonder vergoeding in Limpopo en die Noord- en die Wes-Kaap bywoon. Die verhore in die ander provinsies, wat die organisasie ook bygewoon het, is reeds vroeër vanjaar afgehandel. Dit is duidelik dat die regering nie afgesien het van sy voorneme om die Grondwet te wysig om die onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding moontlik te maak nie. AfriForum sit daarom sy stryd teen dié destruktiewe beleid voort.

“Die regering se volgehoue voortsetting van onteiening sonder vergoeding – ten spyte van ernstige waarskuwings deur ekonome, groot internasionale stemme en die burgerlike samelewing – is ongelooflik roekeloos. In die lig van die ernstige ekonomiese skade wat die regering se inperkingsregulasies aangerig het, is dit nou meer as ooit noodsaaklik om vir internasionale en plaaslike beleggers sekerheid oor eiendomsreg te kan gee. Die beskerming van eiendomsreg is ’n belangrike boublok vir ekonomiese herstel – en dit is slegs ’n regering wat totaal en blindelings ideologies in sy beleid gedrewe is wat dié feit sal verontagsaam,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.