Die Solidariteit Beweging, waaronder Solidariteit en AfriForum, het vandag standpunt ingeneem deur te stel dat daar geen verdere rede bestaan waarom die huidige ramptoestand, wat al sowat 22 maande in werking is, van krag moet bly nie. Dit volg nadat die ramptoestand onlangs weer deur die regering verleng is.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, begin dit blyk dat die pandemie nou na ʼn endemiese fase beweeg. Voorts blyk dit dat daar nou verhoogde groepimmuniteit teen Covid-19 te bespeur is met die Omikron-variant wat tot minder ernstige siekte en sterftes gelei het. “Die feit dat die virus nou endemies is, beteken dat die virus nie gaan weggaan nie maar dat daar met die virus saamgeleef moet word. Dit beteken voorts dat uitsonderlike maatreëls deur die staat, soos wat onder ʼn ramptoestand ingestel kan word, nie meer nodig is om die virus in bedwang te probeer hou nie,” het Buys gesê.

Volgens Buys is die Beweging ook baie bekommerd oor die stand van skole in Suid-Afrika weens beperkings wat onderwys belemmer. “Die feit dat baie skole steeds nie na normale funksionering kan terugkeer nie, verdiep die kommer oor die toekoms van ʼn hele generasie leerders,” het Buys gesê.

Beide AfriForum en Solidariteit gaan voorts met regstappe begin om sodoende die howe te vra om die ramptoestand te beëindig.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, hou die ramptoestand ‘n bedreiging vir vryheid in, aangesien dit aan die regering buitengewone mag gee om burgerlike vryhede dramaties in te perk sonder dat sodanige mag op enige wyse aan parlementêre toesig en besluitneming onderwerp word. “Die feit dat die ramptoestand aanhoudend verleng kan word sonder parlementêre goedkeuring, is ʼn  ernstige skending van gesonde demokratiese beginsels,” het Kriel gesê.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skep die huidige ramptoestand groot onsekerheid vir werkers, maatskappye en die ekonomie oor die algemeen, en dit moet dus beëindig word. “Die ramptoestand stel die regering in staat om op kort kennisgewing maatreëls in plek te stel wat besighede en werkers se lewensbestaan beïnvloed. Hierdie swaard wat oor die ekonomie hang skep onsekerheid vir kapitaalvorming en verdere uitbreiding in ʼn tyd waar ekonomiese groei nou van kardinale belang is,” sê Hermann. 

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder, sal die organisasie eersdaags sy hofstukke indien.
“AfriForum het reeds verskeie van die regering se verregaande maatreëls aangevat, insluitend die aandklokreël, staatskwarantynkampe en die verbod op godsdienstige byeenkomste. Dit is nou hoog tyd dat die ramptoestand in sy geheel opgehef word,” sê Broodryk.

Hermann sluit af deur te sê dat argumente dat die ramptoestand nie op kort kennisgewing beëindig kan word nie, gerieflikheidshalwe vergeet van die regulasies wat met “onmiddellike effek” onder die ramptoestand ingestel en afgedwing is.

Verdere besonderhede oor die voorgenome regstappe word binnekort bekend gemaak.