Die Suid-Afrikaanse burgerregteorganisasie AfriForum het ’n brief gerig aan Dr. Alistair Mokoena, Google se direkteur vir Suid-Afrika. AfriForum versoek ’n verduideliking vir wat blyk te wees die onderdrukking deur Google op sy soekenjins van toepaslike artikels wat handel oor anti-wit rassisme en/of diskriminasie in Suid-Afrika.

Dié teenstrydighede het onder AfriForum se aandag gekom ná ’n ondersoekende artikel deur PoliticsWeb oor ’n vergelyking tussen Google soekenjinresulate versus ander soekenjinresultate vir frases soos anti-white racism in South Africa, anti-white racial discrimination in South Africa ofdiscrimination against whites in South Africa. Verdere ondersoek hieroor sal gedoen word met behulp van spesialiste.

“Diskriminasie en rassisme teenoor wit Suid-Afrikaners en ander minderheidsgroepe is onmiskenbare feit. Dit is kommerwekkend dat toepaslike en goed nagevorste artikels en bronne oor dié kwessie nie in Google-soektogte voorkom nie. Dit het ’n werklike invloed op die koestering van dwalinge en die bevordering van foutiewe inligting,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.